Bosveldklong - Kalfie Wals

Sarie Marais.Com Tuisblad

Radio Sarie Marais Ons Gesels Forum Kontak Ons
Tuis
Soogdiere
Bokke
Kat Familie
Perde en Donkies
Beeste
Skape
Varke
Voëls
Visse
Slange
Spinnekoppe
Honde
Ander

 

 

Diere, Voëls enVisse Van Suid Afrika

 

Beeste

Afrikaner

afrDie geskiedenis van die Afrikanerbees in Suid-Afrika is ʼn interessante geskiedenis en het ʼn noue verbintenis met die geskiedenis van die land se mense. Hierdie tipiese Box indicus diere, die belangrikste van ons inheemse rasse, was die eerste beeste wat Jan van Riebeeck teëgekom het kort nadat hy aan die Kaap geland het. Daar is min inligting oor die oorsprong van die ras. Die mees waarskynlike teorie is dat dit, in sy mees primitiewe vorm, op die steppe van Asië vanuit die wilde beeste van daardie tyd ontstaan het. Sedert daardie tyd het dit van die lateraal-gehoringde Zebu afgestam sonder enige infusie van vreemde bloed. Dit het ongeveer 2000 jaar gelede vanaf Aden na Afrika gekom en tydens opeenvolgende eeue geleidelik suidwaarts gemigreer, met slegs die diere wat die beste aangepas het by droë toestande, ekstreme hitte, tropiese siektes en beide interne en eksterne parasiete, wat uiteindelik die suidelike punt van die kontinent bereik het. So lank terug as die 15de eeu het Portugese matrose gerapporteer dat die Hottentotte in die suid-westelike streek van die land al reeds kuddes van hierdie beeste besit het.

Alhoewel 'n groot hoeveelheid tussenteling op daardie stadium plaasgevind het, het hulle, tot hulle krediet, daarin geslaag om hulle Afrikanerkudde suiwer te hou, en die voortgesette bestaan van hierdie geharde ras verseker.

Van die prominente telers was Jozef du Plessis van Rietfontein Plaas, Kroonstad, wat sy kudde intak gehou het. Ander wat begin het om hulle rasegte kudde op te bou, het die bekende Malan-, Pieterse-, Ras-, De Wet-, Lubbe-, Greyling-, Van Biljon- en Jordaan-families wat almal ʼn betekenisvolle rol in die ontwikkeling en verspreiding van die ras gespeel het, ingesluit.

Lees gerus meer hier.

Uit die Landbouweekblad die volgende:

Suid-Afrikaanse boere het egter eers teen ongeveer 1912 begin om die Afrikaner se uitstaande kwaliteite te na waarde te skat. Toe is daar, hoofsaaklik te danke aan die pogings van Alex Holm, hoof van die Potchefstroom Landboukollege en ʼn voorstaander van die ras, ʼn stamboek saamgestel sodat beplande teling kon plaasvind om die ras se ontwikkeling na die Afrikaner wat ons vandag ken, te beheer. Nie baie mense is daarvan bewus dat, enkele jare vantevore, die ras amper uitgewis is toe groot getalle as gevolg van die runderpes gevrek het of gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog vernietig is nie. As ʼn direkte gevolg is verskeie eksotiese rasse hoofsaaklik van Brittanje en Europa ingevoer om die land se uitgedunde beesgetalle op te bou.

Afrika se beesrasse het die afgelope dekade ál gewilder geraak. 'n Goue geleentheid is egter verpas deur die voortydige ontwikkeling van die moderne
Afrikanerbees. 'n Bekende teler meen daar moes eerder op die gebaande weë gebly gewees het.

In die sitkamer van die historiese Rynheath-herehuis wat uit 1830 dateer en met 'n onbeperkte uitsig oor Spandaukop buite Graaff-Reinet, haal mnr. Johannes van Rensburg (50), die jongste Afrikanerbees-joernaal te voorskyn.

"Kom, laat ek jou wys hoe die pad byster geraak is. Kyk na dié bul. Dit is 'n massiewe dier met regop hakskene wat nóóit hier in die Karoo sal aard nie. Lyk hierdie koeie dalk vir jou na Afrikaners?" toets hy my en tik met sy wysvinger op die foto's van die verskillende telers se beeste.

Is dit nie net omdat die beeste onthoring is nie? "Nee, dit is nie al nie. Met ál die infusie wat deesdae so mode geword het, is dit 'n onreg om só 'n afrikanermengelmoes van beeste in die joernaal te adverteer. Sal 'n Merinoteler daaraan dink om Dorpers in die Merino-joernaal te adverteer? As jy skoon water by modderwater voeg, sit jy steeds met vuilwater. Geen wonder die Afrikanerbees-telersgenootskap se ledetal het die afgelope paar jaar so getuimel nie," sê hy onthuts.
Ek luister aandagtig. Vroeër die dag toe op Rynheath foto's geneem is van die Afrikanerbeeste met hul weglêhorings, het dit my nostalgies na 'n geraamde afdruk in my ouma se eetkamer teruggevoer. Daardie bekende toneel waar die Voortrekkers met hul ossewaens en Afrikanerosse die Drakensberge oor is.
En die onthoringde beeste in sy kudde op Rynheath? Van Rensburg stik byna in sy tee. "Nee, jong, die genootskap het in 1999 op 'n boeredag op Hoopstad gesê dit is nou 'n vereistes dat alle geregistreerde Afrikanerbeeste voortaan onthoring moet word omdat die moderne vleisbedryf dit kwansuis soek. Soos 'n blerrie 'fool' het ek dit vyf jaar lank slaafs nagevolg. Dit is totale onsin dat die diere mekaar met die horings seermaak."Oukei, jy sukkel 'n bietjie in 'n drukgang, maar hier is 'n voerkraal wat gereeld my beeste koop. Hoekom? Omdat die vleis van die Afrikaner, Jersey en Angus die fynste draad en sagste van almal is."Daar is 'n wonderlike toekoms vir die Afrikanerbees met sy horings en al. Mense het opnuut bewus geraak van die waarde van inheemse beesrasse. Buitendien is daar hoeveel ander beesrasse in die land, soos die Bonsmara, wat regstreeks hul oorsprong uit die Afrikanerbees het."As dit so 'n voortreflike ras is soos wat hy voorgee, waarom word dit, behalwe op die R10-banknoot, deesdae selde gesien? "Dit was die koms van die Brahman in die 1960's na die land. Hulle het uitstekend met die Afrikaners in die Bosveld gekruis. Dit het die mark vir Afrikanerbulle laat kwyn. Uiteindelik het die koeikuddes afgeneem.
"Terselfdertyd het persoonlikhede in die bedryf hulle laat geld en met groot fanfare 'n ander teelrigting begin inslaan. Kommersiële boere het hul vingers verbrand met die vaars wat gekoop is en ál meer hul rug op die ras begin draai."
Hy vertel dat sy pa, Dicky (83), al in 1945 sy Afrikanerstoetery begin het met diere wat hoofsaaklik uit die Geldenhuys-bloedlyne gekom het. Die Geldenhuyskudde was glo baie eenvormig en die koeie het baie melk en 'n uitmuntende loopvermoë gehad. Sy pa het, soos die gebruik destyds was, sy jaarlikse vakansie geneem om met sy diere te gaan skou. "Ek was maar vyf jaar oud, toe ek saam met 'n werker die eerste bulkalf op die Bloemfonteinse skou in die ring gelei het," onthou hy trots.
Teen die 1970's was daar meer as 1 200 Afrikanerkoeie en 20 000 ooie op hul plase by Graaff-Reinet, die Addo-bosveld en Bathurst. Met die demokratisering van Suid-Afrika teen die 1990's in sig, droogte en rentekoerse wat die hoogte ingeskiet het, is die Van Rensburgs, soos talle ander gesiene Karooboere, deur hul bank gedruk om uitstaande lenings op kort kennisgewing terug te betaal. Ondanks dié terugslag het hulle 200 van die beste Afrikanerkoeie gehou.
Hoewel hy 'n opbetaalde lid van die Afrikaner-beestelersgenootskap gebly het, is sy diere vandag nie meer geregistreer nie. "Die Afrikanerbees is my passie én ek maak geld met hulle. Toegegee, hulle kalf miskien 'n jaar later as ander beesrasse op droë veld en gee net elke 13 maande 'n kalf, maar hul langlewendheid en lae onderhoudskoste vergoed daarvoor. Hier is 'n paar koeie wat op 20 jaar weer dragtig is."
Hy verduidelik dat Afrikanerbeeste se langlewendheid daaraan te danke is dat Seboerasse se tande op 'n hoek afslyt.
Op Rynheath word die koeie van November tot einde Januarie gepaar. Ingeval daar koeie is wat nie beset geraak het nie, word die bulle weer in Maart vir 28 dae by die koeie gesit. Die kalwers word op die ouderdom van ses maande gespeen. Die koeie kry geen byvoeding nie. Net 'n fosfaatlek gedurende die winter.
Van Rensburg gebruik 'n Nieu-Seelandse konsultant, mnr. Ian Walsh, wat met behulp van sonartegnologie die wydte en diepte van die oogspiere, vetbedekking op die ribbes en kruisskyf meet. Dit staan as die Falkirk-indeks bekend.
As die leier van 'n wegbreekgroep van 28 boere, wat hulself die Kaapse Afrikanerbeestelersgroep noem en saam sowat 2 600 teelkoeie het, kla hy dat dit prestasietoetsing en BLUP is wat in die telers se keel afgedruk is, wat hulle tot dié stap gedwing het.
"Van 1991 af het die mense 'prestasietoetsmal' geword. As dit só 'n goeie ding vir die ras was, waarom het die ledetal van die genootskap van 125 tot 61 lede gedaal? Hoekom is daar dan nie méér bulle bemark nie? Laat ek jou sê, dit is nié die boere wat met ander rasse boer wat ons vyand is nie. Dit is die onderlinge getwis tussen lede wat die grootste onreg aan die ras doen.
"Familievetes wat uit die Boere-oorlog dateer, is nog aan die orde van die dag. Dit is infusies wat dinge omgekrap het. 'n Mens wonder watter druk daar van die Instituut vir Diereverbetering op Irene is om dié koers in te slaan. In 1990 was Sanganers die geur van die maand, nou is dit weer Afsims. Is die infusies nie bloot daarop gemik om die Afrikaner tot niet te maak nie? Hoekom verkoop daardie telers nie hul Afrikaners en skaf vir hulle die ander rasse aan nie?" wonder 'n omgekrapte Van Rensburg.
Vir hom is die ideale Afrikanerbees 'n klein- tot mediumraamdier wat op die veld gedy, vrugbaar is en 'n bulkalf van 200 kg en 'n verskalf van 175 kg teen die ouderdom van ses maande op die veld speen. Dié bees moet ook 'n karkas hê wat die regte bespiering op die regte plekke het - daar waar die duur snitte is.
Of die Kaapse groep dit sal oorweeg om weer lede van die genootskap te word, sê hy dat dit 'n vae moontlikheid is mits die voorsitter van die genootskap nie self 'n stoetteler is nie en die verteenwoordigers in die raad oor die land versprei is. "Ons groep besit uitstekende diere wat enige dag net so goed soos die geregistreerde diere is. Daar word volledig boekgehou van die koeie en kalwers se stambome. Al wat ons nié het nie, is die papiere. Hoekom R35 per bees vir registrasiegeld betaal en dan word daar teen jou gediskrimineer die dag as jy beeste op 'n veiling wil verkoop?
"Laat ek jou vertel," lig hy my vertroulik in, "hier kom al hoe meer van die geregistreerde telers uit die Vrystaat en die Noorde wat stil-stil by ons beeste kom koop."
Die lang wyser van die horlosie stap aan na twaalfuur. Ons staan op en gaan loop 'n draai. Die sterre skyn helder in die soel maanlose Karoonag. "Ek verstaan nie ander beesrasse nie. Daar is nie 'n trotser dier op aarde as die koedoe en Afrikanerbees nie. Waarom dit staan en verander? My droom is dat almal die bees vooropstel en dat bulle op veilings volgens die Falkirk-stelsel getoets word. Dán kan die kopers besluit watter prys hulle wil betaal en kan ons weer vorentoe beweeg," sug hy.

Landbouweekblad, 25 April 2008

Brahman

Beskrywing

1.  Algemene voorkoms

brahmanGrootte en gewig
Die bees moet goed ontwikkel en uitgegroei wees volgens ouderdom (Brahdex Tabelle). Die raamwerk moet voldoende diepte, wydte en lengte hê.  Volwasse bulle moet 'n massa hê van tussen 750 kg en 1030 kg. en volwasse koeie met 'n massa van tussen 500 kg en 660 kg.

Vorm
Breed, diep en gebalanseerd met 'n reguit rug en effens geronde kruis.  Enige merkbare daling vanaf heupe na skof of haselêer (kambene) is ongewens.  Dier moet reghoekig staan, met voor- en agterbene goed uitmekaar geplaas.

Kwaliteit
Huid sag, beweeglik en van middelmatige dikte.  Beenstruktuur sterk en stewig.

2.  Bouvorm

Voorkwart

  1. Skouers en bors
    Skouerblaaie redelik skuins en goed gevul met goeie wydte bo tussen kambene en deur skof bedek.  Borsstuk nie te prominent nie.  Borskas diep met goeie wydte in borsvloer, rond en vol agter skouers.

  2. Middelstuk
    i
    Back and Ribs
    Rug breed en gelyk vanaf skof en heupe met 'n goed ontwikkelde oogspier.  Ribbes goed gesprong, geboë met genoegsame lengte om middelstuk om goeie diepte te gee.  Simmetries aan lende en haselêer geheg.  Waarneembare holtes agter skouers en kort middelstuk is onwenslik.

    ii. 
    Lende
    Breed, dik, gelyk en ferm, egalig verbind met rug en kruis.

    iii. 
    Voorbene
    Bene matig in lengte, reguit en parallel met mekaar geplaas.  Kootgewrigte moet stewig wees, met taamlike eenvormige kloue wat reguit na voor wys.

  1. Agterkwart
    i. 
    Kruis
    Goeie lengte vanaf heupbene tot sitbene.  Goeie wydte tussen sitbene.  Amper gelyk, maar met effense ronding na stertinplanting.   Egalig en sterk gebind met lende.  (skerp helling 'n ernstige diskriminasie).  Kruis goed gespierd.

    ii. 
    Heupe
    Effens onder rugvlak, redelik wyd uitmekaar wees.  Nie prominent in die bul nie.

    iii. 
    Dye
    Buitedye breed, dik, vol en diep, strek goed af tot by hakskeensenings.  Binnedye diep en vol.  Draaibene mpet wyd uitmekaar geplaas wees.

    iv. 
    Agterbene
    Agterbene loodreg van agter gesien.  Vanaf die kant gesien moet 'n effense buiging na vore, onderkant die hak, voorkom.  Sterk, effens skuins, kootgewrigte van medium lengte en nie slap vertoon nie.  Skoon droë hakke met die regte behoeking (200-210 grade).  Beweging reguit, sterk en energiek.  Kloue reguit eenvormig en taamlik groot. 

    v. 
    Bespiering
    Die dier moet voortreflike bespiering toon.  Bo voorarm en skouer goed bespierd.  Rug en lende egalig breed met goed ontwikkelde oogspier wat tot onder die skof egalig inloop.  Bespiering van koei moet gladder vertoon as in die geval van bul.  Binne- en buitedye goed en volgespierd.  Die breedste punt van die jong dier, wanneer van agter gesien, moet 'n lyn net onder die draaibene wees.

3.  Ras- en Geslagseienskappe

  1. Kleur en pigmentasie
    Enige skakerings van grys tot rooi tot swart, asook wit of rooi gespikkeld.  Velpigment moet swart wees.  Een afwyking word toegelaat: op neusspieël, om die oë, aan die kloue, stertkwas of onder die stert.

  2. Kop
    i.  Kruin van die kop
    Die kruin van die kop moet 'n goeie breedte hê met 'n matige ronding

    ii. 
    Gesig
    Gesig van medium lengte, met ovaalvormige neusbeen, neusspieël breed met neusgate wyd geplaas en oop met donker lippe.  Die bek moet sterk en breed wees.

    iii. 
    Ore
    Oë sag en vol, met goeie breedte uitmekaar geplaas.  Sterk ontwikkelde oogbanke, nie te prominent by vroulike diere nie.

    iv. 
    Ore
    Ore van goeie lengte, redelik wyd.

  3. Nek en keel
    Nek sterk gespierd by bulle; en sierliker by koeie, vloei gladweg saam in skouers.  Keel glad aan die kante, maar met goeie ontwikkeling van keelvel.

  4. Skof
    Die bul se skof moet groot, boontjievormig, na agter uitstaan, matig in dikte en direk bokant skouers geplaas wees.  Koeie moet 'n ovaalvormige skof van matige grootte vertoon, direk bokant die skouers geplaas.

  5. Skede/Preputium/Naelvel
    Die skede moet bokant die lys wees wat getrek word vanaf die hak na die knie.  Die opening moet klein en digsluitend wees.  Die tuit moet kort en ferm wees en na voor punt.  Naelvel moet nie oormatig ontwikkel wees nie.  Geen oordrewe of permanente eversie van die lamina interna (uitsakking van die binne weefsel van die skede) mag plaasvind nie.  By die vroulike dier moet geen oormatige naelvel ontwikkeling voorkom nie.  Die naelvel moet ook nie deurloop na voor tot by borsstuk of na egter tot by uier nie.

  6. Stert
    Netjies en nie te diep aan kruis geheg, ietwat laer as ruglyn.  Stert redelik lank en dun met swart stertkwas.

  7. Gelsagsorgane
    Die bul moet goed ontwikkelde testes en bybal (epidydimus) ontwikkeling toon binne die parameters van die Brahdex Tabelle.  By die vroulike dier moet die vulva goed ontwikkel wees.

  8. Uier

  9. Geslagsegtheid
    BULLE
    Bulle moet algehele manlikheid openbaar, wat sigbaar moet wees in meer prominente gespierdheid, ontwikkeling van skof en nek, goed ontwikkelde gelykhangende teelballe.  Verdonkering in kleur moet voorkom op kop, voorkwart en buitedye.  In sy hele wese moet die bul krag, vitaliteit en sterkte toon.
    KOEIE
    Algehele vroulikheid geopenbaar deur 'n relatiewe verfyning in alle liggaamsdele wanneer met  bul vergelyk.  Nek sierlik en plat, goeie kwaliteit van vel, haar en been.  Wanneer van die kant gesien moet die koei effens wigvormig wees (dieper agter as voor).  Oordrewe vetaanpakking op borsstuk, heupe en sitbene geheel en al ongewens.  Geslagsdele goed ontwikkeld, met 'n ruim, plooierige uier.  Uier moet goed aangeheg en nie vlesig wees nie.  Spene van redelike grootte en vierkantig geplaas.

  10. Aanpasbaarheidseienskappe ten opsigte van omgewing
    Huid dig bedek met hare van middelmatige tekstuur, olierig by aanraking en beweeglik.  Goed ontwikkelde keelvel met sagte, geplooide vel wat vanaf onderkaak tot borsvloer strek.

  11. Temperament
    Wakker, maar gehoorsaam en hanteerbaar

 

Drakensberger

drakensbergDie Swartbees van 1652 word in 1947 die Drakendberger Uitstekende inheemse vleisbees, aanpasbaar in alle produksiestelsels in Suid Afrika en wyd verspreid in Suidelike Afrika. Bewese natuurlike weerstand teen ekto en endo parasiete met wetenskaplike feite wat hitte en koue verdragsaamheid bewys.

Daar is nie ’n enkele reklamestuk van enige ras wat nie sou sê dat hierdie ras oor aanpasbaarheid, vrugbaarheid, groeivermoë en karkaskwaliteit beskik nie. Daar word ook ander begrippe, soos wetenskaplik ontwikkeld, inheemse herkoms en kruisteelvermoëns, gebruik om rasbevordering te doen. En sekerlik het elke ras ’n plek in die son, want die meeste produsente maak eerstens ’n sukses van die ras waarvan hy hou. Hy bestuur beter, beplan beter en gee meer aandag.

Tog het boerdery in die moderne tyd ’n besigheid geword en soos in enige besigheid gaan dit oor die bottomline – die wins wat hierdie besigheid kan genereer binne ’n spesifieke omgewing. En om dít te kan doen, maak ’n mens gebruik van elke hulpmiddel wat beskikbaar is. Rondom beesboerdery is daar soveel wetenskaplik bevestigde hulpmiddels dat selfs kommersiële beesprodusente vandag direk of indirek daarvan gebruik kan maak. ’n Ander belangrike besigheidsbeginsel wat jou help om meer winsgewend te boer, is om insetkoste te verlaag en inkomste te verhoog.

Die Drakensberger beesras is vir oningeligte produsente maar net nóg ’n ras. Tog beskik hierdie ras oor eienskappe wat deur eeue heen geneties vasgeteel is en wat verseker ’n wesenlike verskil aan die inkomste van ’n beesprodusent maak. Een van hierdie belangrike eienskappe is juis die uiters lae insetkoste, wat beide veeartsenykoste en produksiekoste insluit.

Drakensbergers beskik oor natuurlike weerstand teen bosluise en bosluisoordraagbare siektes en as ’n Drakensberger wel ’n siekte sou opdoen, is die kanse om hierdie dier te red, baie goed. Hierdie feit word beaam deur verskeie produsente wat ook met ander rasse geboer het. Voeg daarby die uiters lae onderhoudsbehoeftes van Drakensbergers en hul ongelooflike vermoë om in uiterste klimaat- en weidingstoestande te oorleef, om swak ruvoer te benut en vinnig na die winter kondisie op te tel en daar bly klaar ’n hele paar rand per dier in die produsent se sak oor.

Reproduksie in terme van persentasie kalwers gespeen, speenmassa en die dragtigheid van die koeie en verse vir die volgende seisoen is die volgende belangrike aspek wat aandag moet kry in die winsgewendheid van ’n beesboerdery. Dit is ’n algemeen aanvaarde feit dat daar nie ’n beter koei as ’n Drakensberger is nie en hoe moeiliker die omstandighede vir produksie, hoe sterker staan hierdie feit.

Ten spyte van die onlangse droogte, speen Lubbe Weich, ’n produsent in die Boshofdistrik, 97% kalwers met ’n gemiddelde speenmassa van 261 kg en sy koeie is almal weer dragtig. Vir drie jaar agtereenvolgend het Daan Bothma, ’n produsent van Theunissen, ’n 100%-kalfpersentasie met ’n TKP van 377 dae oor sy kudde. Die Bezuidenhout-broers van Brandfort bevestig vanjaar weer ’n 100% dragtigheid by hul koeie en verse. As ’n mens verder bereken dat jy met Drakensbergers net twee bulle per 100 koeie benodig, is dit ’n verdere belangrike besparing in die produksiekoste-opset. Die som is nie moeilik om te maak nie. Twee tot vyf meer speenkalwers per 100 koeie, tien tot 20 meer kilogram speenmassa per kalf, 90% plus herkonsepsie – en die Drakensberger word nie geklop nie!

Klein dingetjies beïnvloed ’n beesprodusent se wins al hoe meer en dit is een van die redes waarom meer en meer kommersiële produsente met ander oë na die Drakensberger-ras kyk. Gehardheid en vrugbaarheid, wat eintlik beteken dat koeie na ’n droogte weer kalf, regtig baie melk produseer en daardie 10 kg meer per kalf speen, sowel as die toenemende gesogtheid van die Drakensberger in voerkrale, is faktore wat ’n rol speel in die winsgrens van die kommersiële beesprodusent.

In die Senwes gebied is die Drakensberger-ras goed gevestig. In die Sentraal- en Wes-Vrystaat speel die Drakensberger ’n groot rol in verskeie gemengde boerderye, met die 6+ Stoettelers in die Brandfort/Bultfontein-distrikte as voorsieners van uitstekende genetiese materiaal. Ook in ’n wye gebied in distrikte vanaf Randfontein, Klerksdorp, Potchefstroom, Vryburg, Reivilo en Toska, wat aan die Noordwes Drakensberger Klub behoort, loop honderde Drakensbergers wat wins vir hul eienaars genereer. Beide die 6+ Telers sowel as die Noordwes Klub hou veilings vroeg in September.

As beesboerdery regtig oor wins gaan, is die antwoord eenvoudig – Drakensbergers! Hulle word nie sommer geklop nie.


 

Bronne: http://www.drakensbergers.co.za/, http://www.senwes.co.za, http://www.landbou.com/, http://www.afrikanerbees.com/, http://www.brahman.co.za/Afrikaans/,

 

 
  Kontak Ons  

Ek gee waar moontlik erkenning waar moontlik, indien ek dalk van u materiaal sonder toestemming gebruik kontak my asb sodat ek dit kan regstel

Baie van die inligting op hierdie webblad is aan my gestuur deur vriende en forum lede daarom is en nie altyd seker van moontlikke kopie reg nie.