Oom Chris Blignaut - Ou Ryperd

Sarie Marais.Com Tuisblad

Radio Sarie Marais Ons Gesels Forum Kontak Ons
Tuis
Soogdiere
Bokke
Kat Familie
Perde en Donkies
Beeste
Skape
Varke
Voëls
Visse
Slange
Spinnekoppe
Honde
Ander

 

 

Diere, Voëls enVisse Van Suid Afrika

 

Perde en Donkies

Boerperd

Strydig met die populêre opvattings is daar wel ‘n aantal perderasse wat in Suid-Afrika ontstaan het en is steeds baie gewild as ryperde. Nie veel van hierdie perde het egter ooit buite Afrika beweeg nie. Hul waarde as ryperde en as werkende plaasperde kan nooit onderskat word nie. Perdeliefhebbers van ander lande sal verbaas wees om te weet dat daar minstens ses verskillende perderasse is wat hul oorsprong na die Afrika-vasteland kan terugspoor.

Slegs twee van hierdie ses rasse word egter internasionaal erken. Hulle is die Kaapse Boerperd en die Suid-Afrikaanse Boerperd wat tot onlangs as die Historiese Boerperd bekend gestaan het. Die Boerperd is egter die mees onderskeidende en oudste van die Suid-Afrikaanse rasse met ‘n geskiedenis wat na 1653 terugdateer toe die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie die eerste perde die land in gebring het.

Die eerste teelmateriaal kom vanaf Indonesië en was ‘n kruising tussen Arabierperde en die Barbaryse perd. Met verloop van tyd is ‘n aantal Arabierperde ingeteel om kwaliteit van die ras te verbeter. Hierdie oorspronklike teling het bekend geword as die Kaapse perd en die sagte gekrulde dik maanhaar van die Barbaryse perd is steeds dikwels ‘n eienskap van hierdie perderas. Later is hierdie perderas se bloedlyn verbeter deur dit met ander opreggeteelde perderasse te vermeng. Die Kaapse perd was gehard en kon oorleef met gebrekkige voeding en weiveld en was ‘n baie gemaklike rydier. Verdere eienskappe was die perd se uithouvermoë en saggeaardheid. Die perd was ook besonder aantreklik. Hierdie perd het mettertyd bekend geword as die Boerperd toe dit deur die boere in die twee Boererepublieke gebruik is en het later daar geïsoleerd geraak.

Tydens die Anglo-Boereoorlog is groot getalle van hierdie perde gedood. Opregte Hackneys en Clydesdales in ingevoer om hierdie uitgedunde perde aan te vul, maar ‘n klompie telers het egter die bloedlyn suiwer probeer hou en stadig die getalle aangevul. Laasgenoemde groep was die voorsate van die latere Suid-Afrikaanse Boerperd en ses verskillende bloedlyne van die ses verskillende troppe van die Anglo-Boereoorlog oorleef het, was die gevolg.

In 1948 is die Boerperd Telersvereniging gestig om die ras lewend te hou en om bepaalde standaarde in plek te hou en die getalle aan te vul. Teen 1970 was daar ‘n aantal telers wat die bloedlyne wou verbeter, terwyl ‘n aantal tradisionaliste die ras onveranderd wou behou. Dit het gelei tot die ontstaan van twee uiteenlopende groepe telers in 1980. Die een groep het die ras onveranderd laat bly en dit het bekend geword as die SA Boerperd. Die tweede groep het eienskappe bygeteel, sonder om van die oorspronklike eienskappe te laat wegval. Hierdie laasgenoemde perde het bekend geword as die Kaapse Boerperd.

‘n Ander bekende perderas uit Suid-Afrika kom uit die koninkryk van Lesotho. Die Basoetoe ponie kom uit die Kaapse perd , ‘n aantal wat tydens strooptogte gesteel is. Die uiterste omstandighede en swak weiding in Lesotho het groei belemmer en die perde geharder gemaak. Vandag is hierdie klein geharde ponies - gemiddeld 14,2 hande hoog - gereeld in gebruik in die bekende ponieroetes van die Lesotho Koninkryk.

Twee ander perderasse wat in Suid-Afrika ontstaan het, is die Nooitgedacht ponie en die SA Vlamperd. Die Nooitgedachter het eintlik ontstaan uit die Basoetoe-poon en is as ras gevestig by die Nooitgedacht Navorsingstasie (vandaar die naam) gedurende die vyftigerjare. Hierdie ras is ‘n stewige, vriendelike en aantreklike vyfgang perd. Hulle word veral gebruik vir polo, dressering, perdespring kompetisies en is gewild vir kinders. Hulle is gewoonlik ligbruin met donkerder punte.

Die SA Vlamperd is in die Wes-Kaap ontwikkel uit ‘n negentiende eeuse perd, bekend as de Hantam Perd. Die Hantam Perd het ontstaan uit die kruisteling van opregte Europese perderasse en Arabier perde met Kaapse merries. Meer onlangs is Frieslandse hingste met Hantam merries gekruis en ook later weer met Oldenburgse en Cleveland perde gekruis. Die resultaat was die sogenaamde Vlamperd wat ‘n goedgeaarde, grasieuse perd is wat veral kenmerkend ‘hoog trap’. Dit is ‘n perd wat ewe goed onder die saal as in die tuig gebruik kan word. Die naam is ‘n Verafrikaanste weergawe van Flander’s Horse wat Vlaamse perd en later Vlamperd geword het.

Oom Chris Blignaut -Die Donkie

Donkie

donkie en vulJare gelede op ons plaas het ek eendag met 'n steeks donkie gesukkel. Ek wou net die handsaambok gaan haal toe ou Alfred my stop en die volgende storie vertel:

Die donkie is die weeskind van die diere-ryk. Almal sien op hom neer en alles wat dom is word alewig aan die arme donkie toegeskryf, tog is die donkie die enigste dier wat soggens en saans bid. Elke oggend wanneer die son opkom staar die donkie na die son en dan bulk hy, dieselfde met sonsondergaan. Of dit altyd so is en of dit die geval met alle donkies is weet ek nie, maar daardie woorde kon ek nog nooit vergeet nie. Nog 'n feit is dat elke donkie 'n kruis op sy rug het, kan ons iets daaruit leer ?

Die volgende is 'n uittreksel wat ek op Landbou weekblad se webwerf raakgeloop het.

Donkie hopelik weer na waarde geskat

'n Donkie kan tot 50 jaar oud word en 50 000 uur se harde werk lewer. Trouens, 'n donkie kan net so hard werk soos 'n os wat twee keer so groot is en baie meer vreet. Dan vul 'n merrie nog jaarliks en, as dit moet, kan jy hom eet.

Vandag se boere hoef nie meer Sondagoggende 'n uitgebreide soektog na donkies op tou te sit nie. Jare gelede was dit bykans elke Sondag se ding: 'n Soektog voordat hulle ingespan kan word vir die reis kerk toe. Vandag se boere ry kerk toe in hul duur BMW's (Bankrot Maar Windgat)

Of Maandagoggende wanneer die kinders moes skool toe op die rydonkies of met 'n karretjie getrek deur donkies. Dikwels was daar harde werk ingespan voor 'n damskrop, 'n eg, 'n ploeg of 'n wa.

Genadiglik is daardie swaar tye verby. Vra die ou mense van 'n geslag of wat gelede oor hul jeugherinneringe, en die opdrag wat hulle die beste onthou is: "Loop soek die donkies!"

Donkies wat van ligdag tot sononder in die tuig was, is snags veld toe gejaag om te wei. Maar 'n los donkie het 'n manier om die wêreld aan te vat, wetende dat hulle ingespan gaan word. Hulle het hulself selfs versteek. Voor plase toegespan is, kon hulle vir dae "wegraak". Menige velskoen is oor kliprante en digbegroeide klowe deurgeloop agter donkies aan.

En daar is in tale gespreek as hulle in 'n kraal oornag het om te verhoed dat hulle die pad vat en die hek die volgende oggend ooplê. Oopgebeur, of deur agtelosigheid deur iemand oopgelos met die donkies die vlakte in. Aan die een wat die hek ná herhaalde waarskuwings laat ooplê het, is min of meer die volgende toegesnou: "Jy moet jou donnerse ore nou oopmaak, vreksel!"

Min dinge het die ou dae se goeie Christen-boere se **** vroegmôre so versuur as wanneer daar na donkies gesoek moes word terwyl die taaierwielkarretjie met die tuie en die donkieplak, gemaak van 'n stuk plat aandryfband aan 'n kort stok, oor die spatbord gegooi, ledig staan op die werf onder 'n eensame boompie; met 'n mak bobbejaan aan 'n ketting in 'n kas op 'n paal wat die spektakel geamuseerd gadeslaan.

Tot tyd en wyl die donkies gekry en ingespan is, is ander los werkies maar gou gedoen. Soos om die slagding wat die vorige skemeraand geslag is en vannag aan 'n baaisiekelrim opgehys is om in die koue naglug uit die pad van honde en jakkalse af te koel, stukkend te maak.

Of hout bymekaar te laat maak in die droë rivierlope vir die seeppot in die takskerm en die buite-oond op die werf, sodat daar afval geskraap en gebak kan word.

Eers met die donkies in die kraal kon die dag se werk begin. donkie

Een van die eerste take was om ou Jakob aan die koggelstok van die Stewarts & Lloyds-bakkiespomp te koppel om geblinddoek in 'n sirkel al in die rondte te loop terwyl die sinkbakkies kosbare water uit die put in 'n leivoor gooi om akkertjies groenvoer vir die vasmakers en die melkkoei nat te maak. Dag ná dag totdat 'n sloot uitgetrap is - so diep dat amper net ou Jakob se lang ore later uitgesteek het.

Dit was die toneel op plase in veral die Kalahari, Karoo, Boesmanland en die ou Suidwes, 50, 60 jaar gelede. En die spil waarom feitlik alles gedraai het, was die nederige, hardwerkende donkie, equus asinus (vandaar die onvleiende Engelse benaming "ass") wat so 'n geweldige bydrae gelewer het om Suid-Afrika te ontwikkel. Sonder die geharde, gewillige, sterk donkie sou die ou veeboerpioniers wat die onbekende woesteny ingetrek het die land nooit kon inbreek en makmaak nie.

Tot Suid-Afrika se eer is daar darem twee monumente vir donkies opgerig: By Upington en by Polokwane (Pietersburg) waar die donkies ook 'n belangrike bydrae in die mynbedryf gelewer het.

Dis moeilik om te sê hoeveel donkies in Suid-Afrika oor is. Oor die jare is duisende deur spekulante opgekoop om deur leeus in dieretuine opgevreet te word. Van die tienduisende van vroeër is daar dalk hoogstens 'n paar duisend oor. En van hulle word die meeste waarskynlik as gevolg van die skreiende armoede van hul eienaars uiters swak gehanteer en versorg. Hulle kry nie genoeg kos nie, veeartsenykundige behandeling bestaan nie en hulle word hopeloos oorwerk in draad-en-tougelapte tuie voor swaar, oorlaaide vragte op flentergatkarretjies en -waentjies.

Dit alles word vererger deur die hartseer feit dat Suid-Afrika, sy gedeeltelike Eerstewêreldstatus ten spyt, nie, soos veral Brittanje en Europa, 'n diepgewortelde kultuur van dierebeskerming het nie. Daar is wel goeie wette, maar die toepassing is skraps en die geld daarvoor min. Sonder voldoende staatshulp voer dierebeskermingsorganisasies 'n opdraande stryd.

As dierebeskerming 'n barometer is van 'n land se beskawingspeil, staan Suid-Afrika ver agter in die tou.

Maar daar is nuwe hoop. 'n Bewuswording van die lot van trekdiere is landwyd aan die groei en daar is reeds 'n merkbare verbetering danksy die wonderlike, onbaatsugtige werk van verskeie organisasies en individue. Met Engelssprekendes, veral vroue, aan die voorpunt. Dis moeilik om te verstaan waarom feitlik geen Afrikaanssprekendes by hierdie aksies betrokke is nie.

In Kaapstad doen die Cart Horse Protection Association uitstekende werk. Hulle sien om na die meer as 500 donkies, muile en perde wat in die Kaapse Skiereiland gebruik word om veral ou motorwrakke en ander afval op te ruim en aan skrootwerkhandelaars te verkoop.

Paaie in dikwels gevaarlike gebiede word gepatrolleer, siek diere word verpleeg, swakkes en erg mishandeldes word na 'n hersteloord geneem en die eienaars opgelei om hul diere beter te versorg en hul toerusting in stand te hou.

Dis moeilike werk wat volharding en baie geduld vereis, maar die resultate bly nie weg nie. Die beloning is respek vir die lewe en 'n nuwe trots in ou tradisies by mense wat dit deur omstandighede in 'n nuwe tyd verloor het.

Ook elders in die land is daar vordering. In die Klein- en Groot-Karoo waar donkies in veral die groot landelike Kleurlinggemeenskappe nog 'n leefwyse en die enigste vervoermiddel is, is oral aksies aan die gang. Op De Rust het 'n paar besorgde inwoners 'n donkieklub gestig met 'n werkplaas waar karretjies en tuie danksy skenkings en borge gratis herstel en verbeter word. 'n Nuwe gees van samewerking en 'n begeerte om na hul diere te kyk, is só tot stand gebring.

Die mense agter hierdie lofwaardige pogings is nie sentimentele "do-gooders" nie. Hulle is praktiese mense wat die nood in 'n harde, gebroke wêreld vol armoede en ellende raaksien en met 'n hartstogtelike liefde vir diere iets daaromtrent doen. Mense wie se harte aan skerwe spat en wie se oë vol trane skiet by die aanskoue van 'n maer, mishandelde, verwonde, honger donkie of perd wat sy eienaar met sy laaste bietjie krag steeds getrou dien.

Wat 'n voorbeeld.

Dis nie ál voorbeeld nie. Uit die verre Engeland het nog 'n helpende hand gekom in die vorm van die International League for the Protection of Horses (ILPH). Hierdie organisasie is in 1921 deur 'n Engelse vrou, Aida Cole, gestig toe sy die hartverskeurende lot aanskou het van tienduisende perde wat in die Eerste Wêreldoorlog, waarin meer as 'n miljoen perde gevrek het, diens gedoen het.

Teen die einde van die oorlog in 1918 was baie van die oorlewende perde uitgemergel en beseer en daar was nie geld en kos om hulle te versorg nie. Einde raad het die Britse regering toegelaat dat hulle verskeep word om in veral Frankryk en Duitsland geslag te word om die honger, verstrooide inwoners van 'n verwoeste Europa te help voed.

Vir die Britte, met hul liefde vir perde, was dit 'n bittere gedagte. In hierdie gees het Aida Cole die ILPH gestig. Vandag is dit 'n gerespekteerde internasionale organisasie wat met 'n jaarlikse begroting van miljoene rande wêreldwyd optree om, onder die leuse "Working for a world where the horse is used but never abused" die mishandeling van die wêreld se sowat 120 miljoen perde, donkies en muile te voorkom.

Dis 'n reuse-taak, veral in lande soos Indië en Mexiko waar miljoene donkies steeds die goedkoopste en betroubaarste vervoermiddel en werkende dier is. En natuurlik in Afrika met sy sowat 20 miljoen donkies en perde waar getalle, anders as in Suid-Afrika, inderdaad toeneem namate meganisering in die post-koloniale tydperk weens swak onderhoud en ekonomiese agteruitgang in duie stort.

Werkspanne onder leiding van hoogs opgeleide ruitery-instrukteurs, hoefsmede en saal- en tuiemakers uit veral die Britse weermag en Scotland Yard se beroemde berede afdelings wat steeds baie perde gebruik (net in Londen doen sowat 500 daagliks diens) reis oor die wêreld, bied kursusse aan en lei plaaslike spanne op.

Suid-Afrika word vanjaar vir die agste keer besoek en R120 000 word nou bestee om sowat twintig jong, werklose Kaapse mans as tuiemakers en hoefsmede op te lei. Hulle reis onder leiding van die ILPH se instrukteurs deur die Karoo en het reeds tientalle donkies en perde op Suurbraak, De Rust en Carnarvon onder hande gehad.

Danksy hierdie uitmuntende werk is die eeu oud opvatting dat 'n donkie jou kosbaarste besitting is, besig om weer in Suid-Afrika pos te vat.

 

Bronne: http://www.southafrica.com/afrikaans/blog/suid-afrika-se-boerperd , http://www.landbou.com/bedrywe/diere/donkie-hopelik-weer-na-waarde-geskat . http://www.digitalekameraklub.co.za/images/feb2007/O_die_Donkie.jpg
  Kontak Ons  

Ek gee waar moontlik erkenning waar moontlik, indien ek dalk van u materiaal sonder toestemming gebruik kontak my asb sodat ek dit kan regstel

Baie van die inligting op hierdie webblad is aan my gestuur deur vriende en forum lede daarom is en nie altyd seker van moontlikke kopie reg nie.