Zirk Bergh - My Eie Plaas

Sarie Marais.Com Tuisblad

Radio Sarie Marais Ons Gesels Forum Kontak Ons
Tuis
Soogdiere
Bokke
Kat Familie
Perde en Donkies
Beeste
Skape
Varke
Voëls
Visse
Slange
Spinnekoppe
Honde
Ander

 

 

Diere, Voëls enVisse Van Suid Afrika

 

Skape Tuisblad

Merino Dorper

Karakoel

 

Merino

Algemeen

Die ras bestaan al meer as drie eeue in Duitsland waar hy hoofsaaklik geteel is om in die berge te wei en oor lang afstande te loop. Die eerste diere is in 1956 uit Duitsland ingevoer en het dadelik oor 'n wye gebied in Suid-Afrika aangepas. Vandag word Merino Landskape oral in Suid-Afrika aangetref - Wes Kaap, Karoo, Hoëveld, op stoppellande en voerkrale. 

Vrugbaarheid Onder goeie veld toestande kan ooie op die ouderdom van 15 tot 18 maande lam en lampersentasies van 130% en meer behaal. Onder semi-intensiewe toestande is lampersentasie van 180% behaal. Met drie lamseisoene elke twee jaar is die lampersentasie dus 200% plus.

Melkproduksie en Moedereienskappe Merino Landskaap ooie het baie melk en is buitengewoon goeie moeders. Met goeie voeding is die ooi in staat om die groot persentasie twee- en drielinge goed groot te maak sonder enige melk aanvullings.

Klein lam by geboorte Die lammers is by geboorte klein en lank met 'n smal kop wat lamprobleme tot 'n minimum beperk, selfs by kruisteling met ander rasse. Die lammers is lewenskragtig en groei vinnig en het 'n gewig van 30 tot 40 kg op 100 dae. Onder intensiewe toetstande is massas van meer as 60 kg op 100 dae behaal.

Wol Die Merino Landskaap lewer 'n medium sterk wit wol vry van vreemde vesels met 'n lengte van 75mm plus op 12 maande. Wolproduksie is 6-7 kg wol per ram en 4-5 kg per ooi met 'n skoon opbrengs van 50 - 70%. Die mikron telling wissel tussen 22 en 28. Dit is 'n suiwer wit wol wat goed in die handel aanvaar word en kan met vertroue in kruisteling met ander wolrasse gebruik word.

Dorper

In die vroeë 1930’s het daar ’n oorskot aan skaapvleis in Suid-Afrika ontstaan. Saam met die val van die wolprys in die depressiejare het dit skaapboere gedwing om die uitvoermark vir skaapvleis te ontgin. Die vetsterttipes wat die grootste gedeelte van vleisskape in Suid-Afrika verteenwoordig het, was vreemd vir die Europese mark en het swak gevaar op grond van die karkasgraderingstelsels.

Om meer aanvaarbare karkasse te lewer, is met kruistelingproewe begin. Britse vleisrasse is met die inheemse rasse soos die Afrikaner en Swartkoppersie gepaar. Die vernaamste kenmerke waarvoor geselekteer was, is die volgende:

  • ’n goeie vleiskarkas met egalige vetverspreiding
  • lammers met vinnige groeitempo wat op speenouderdom vanaf veldweiding bemarkbaar is
  • ’n geharde skaap wat weerstand bied teen koue en reën en uiters hoë somertemperature
  • ’n beweeglike skaap wat ’n goeie benutter is van harde grasse en struikveld
  • bestandheid teen siektes en min sorg vereis, en
  • ’n hoë produksie kan handhaaf.

Kruisings tussen die Britse Dorsethorn ramme en Swartkoppersie ooie het die beste aan dié vereistes voldoen. Dit het gelei tot die ontwikkeling van ’n nuwe ras wat vanaf 1950 bekend staan as die Dorper.

Die Dorper is getalsgewys die grootste vleisskaapras in Suid-Afrika vandag. Die hoë aanpasbaarheid van die ras het tot gevolg dat Dorpers in elke provinsie van die land floreer. Die ras is egter uiters geskik vir veral die droër streke waarvoor dit oorspronklik ontwikkel is en waar weinig ander boerdery-aktiwiteite ekonomies moontlik is.

Die winsgewendheid van vleisskaapboerdery hang af van die hoeveelheid vleis wat teen die laagste moontlike koste geproduseer word. Behalwe die kenmerke waarvoor oorspronklik geteel is, moet Dorpers die fisiese eienskappe vertoon wat hulle in staat stel om soveel moontlik lammers wat so vinnig moontlik groei, groot te maak. Dit bepaal die hoeveelheid vleis wat verkoop kan word.

Die Dorper kan beskryf word as ’n goed geboude vleisskaap waarvan volwasse ramme ’n lewendige massa van 100-120 kg en ooie 75-85 kg haal. Die ras kan enige tyd van die jaar gepaar word. Hoë vrugbaarheid het tot gevolg dat lampersentasies van 120 % en hoër behaal word met goeie voeding en bestuur. Lammers word vanaf 3½ tot 4 maande geslag wanneer ’n lewendige massa van 36 kg bereik word en ’n karkas van 15 kg en meer met goeie bouvorm en vetverspreiding.

Eienskappe

Bouvorm: Kop en nek - ’n Lang kop met ’n sterk breë nek.

Die nek moet van matige lengte wees. Prul skape met te lank of te kort onderkake. Bokaak en tande moet reg oormekaar sluit.

Liggaam - ’n Breë bors wat nie te ver uitstaan nie. Dit moet genoeg ruimte vir die longe skep om die skaap in staat te stel om ver te stap. Die lyf moet lank en diep wees met ’n breë sprong van rib. Dit huisves organe soos die rumen of grootpens waar die gevrete plantmateriaal verwerk moet word tot voedingstowwe vir die liggaam. Die kruis moet breed en reguit wees sodat geboorteprobleme voorkom word. Die dye moet binne en buite goeie spierontwikkeling toon. Van bo en van die sy gesien moet die lyf ’n wigvorm toon met die breë kant na agter. Die bene moet goed geplaas wees met ’n goeie lengte en stewige gewrigte sodat die dier sonder moeite lang afstande kan aflê op soek na kos.

Prul skape wat knyp agter die blaaie, rankerig is en hangkruise, swak hakke, kootgewrigte wat deurtrap en holrûe vertoon.

Grootte: ’n Goeie balans tussen lengte, hoogte en diepte in
verhouding met die dier se massa en ouderdom.

Vetverspreiding: Vet moet egalig oor die hele lyf versprei wees. Diere met vetaansameling op sekere dele soos die kruis, is ongewens.

Kleur: Swart en wit Dorpers verskil slegs wat kleur betref. Wit Dorpers het ’n wit wol en haarbedekking met pigment verkieslik op die kaal dele. Dieselfde geld by Swart Dorpers, maar swart kolle mag op die kop of voorlyf voorkom.

Haarbedekking: Die ideaal is ’n mengsel van kort hare en wolbedekking oorwegend op die voorkwart. ’n Lang maanhaar is ongewens.

Met die aankoop of seleksie van ooie en ramme moet veral op die volgende gelet word:

  • Ooie moet twee goed gevormde spene hê sonder enige misvormdheid en uiers sonder harde knoppe.
  • Koop verkieslik ooie wat sigbaar dragtig is of met lammers. Wees versigtig vir ooie wat uier wys, maar waarvan die lammers dalk pas gespeen is.
  • Ramme moet goed gevormde testikels hê, en ’n skrotum met ’n omtrek van 36 cm of meer. Die testikels moet van middelmatige lengte wees, en nie pap of hard voel nie, maar ferm wees.

Die gebruik om ramme permanent by ooie te laat, word nie aanbeveel nie. Paar- en lamtyd moet beplan word volgens die voedingsbehoeftes van die diere en die beskikbaarheid van voeding. In die somerreënvalstreke met herfs as hoof reënseisoen waar beskikbare voeding meestal net een lamseisoen per jaar toelaat, is laat lente/vroeë somer die beste paartyd. Die lammers word in die herfs of vroeë winter gebore wanneer dit normaalweg koeler word en die veld goeie groen bossiegroei toon. Voedingstoestande is dan gewoonlik gunstiger wanneer die ooie se voedingsbehoeftes hoër is soos tydens laatdragtigheid en laktasie. Die lammers groei ook beter in die koeler maande. Oorslaan ooie kan in die lente lam. In die warm somermaande groei lammers stadig.

’n Vaste lamseisoen hou, behalwe voedingsvoorsiening, die volgende voordele in:

  • ooie wat nie lam nie kan maklik geïdentifiseer word
  • ooie met min melk kan uitgeken word aan hul swak lammers, en
  • bestuursprogramme soos bv. inentings kan nougeset uitgevoer word.

Winsgewende langtermynboerdery met ’n vleisskaap soos die Dorper op hoofsaaklik ekstensiewe natuurlike weiveld, noodsaak baie goeie veldbestuur.

Dorpers vreet minder selektief as wolskape. Gevolglik word meer onsmaaklike plante ook deur Dorpers benut, waardeur die veelading maklik oorskry kan word. Pas die veelading dus by die langtermyndrakrag aan. In die praktyk beteken dit om verkieslik meer lammers vinniger groot te maak as om meer ooie aan te hou. Die waarde hiervan word veral gedurende droogtes besef. Hou slegs soveel vee aan dat ’n gedeelte van die beskikbare weiding vir ’n groeiseisoen of meer vir saailingvestiging kan rus. Die saailinge wat vestig is gewoonlik ’n aanduiding van die veld se toestand en die boer se veldbestuursvernuf.

Karakoel

Die Karakoelbedryf is sinoniem met die ariede dele van Namibië en die Noordwes-Kaap.

Karakoelskape is nie inheems in Suid-Afrika nie. Ongeveer 750 Karakoele is aan die begin van die eeu en oor ’n periode van twee dekades vanaf Asië na Namibië ingevoer. Vandaar het die ras ook na die Noord-Kaap en aanliggende gebiede versprei. Inheemse skaaprasse soos die Swartkop Persie en  Namakwa Afrikaner was by uitstek geskik vir die opgradering van die Karakoel. Karakoelgetalle het vinnig vermeerder tot ’n piek van meer as 5 miljoen vir Namibië en die RSA gedurende 1979.

Die Karakoel word gekenmerk deur sy wye aanpasbaarheid by  droë- en semi-woestyngebiede. Kenmerkende raseienskappe is die haarbedekking en vetstert asook die hangkruis en respiratoriese voorkoms. Laasgenoemde verwys na bouvorm-kenmerke wat die ras in staat stel om by uiterste klimaatstoestande aan te pas (byvoorbeeld matige sprong van ribbe en rankerige voorkoms soos by kleiner wildsbokke). Die primêre waarde van Karakoelboerdery bo ander boerderystelsels lê daarin dat die lammers kort na geboorte vir hulle pelse geslag kan word en die ooi dus van laktasie onthef word. Tydens droogtetoestande is dit ’n groot voordeel as die ooi nie ’n lam hoef groot te maak nie - die voedingsbehoeftes van ’n lakterende ooi is ongeveer 2 keer meer as dié van ’n gusooi.

Karakoellammers word gewoonlik binne 36 uur na geboorte geëvalueer en die lammers wat aan die gehaltevereistes voldoen, word vir hulle pelse geslag.

 

 

 

Bronne: http://merinolandskaap.webs.com/ , http://www.elsenburg.com/info/els/060/060a.html ,
  Kontak Ons  

Ek gee waar moontlik erkenning waar moontlik, indien ek dalk van u materiaal sonder toestemming gebruik kontak my asb sodat ek dit kan regstel

Baie van die inligting op hierdie webblad is aan my gestuur deur vriende en forum lede daarom is en nie altyd seker van moontlikke kopie reg nie.