Jacques de Coning - Oudshoorn is 'n grootvoel paradys.

Sarie Marais.Com Tuisblad

Radio Sarie Marais Ons Gesels Forum Kontak Ons
Tuis
Soogdiere
Bokke
Kat Familie
Perde en Donkies
Beeste
Skape
Varke
Voëls
Visse
Slange
Spinnekoppe
Honde
Ander

 

 

Diere, Voëls enVisse Van Suid Afrika

 

Voëls Tuisblad

Bloukraanvoël Aasvoël Hammerkop
Kraai (Witbors) Sekretarisvoêl Volstruis
Wielewaal ( Afrikaanse ) Gras Uil Witpelikaan
 
Bloukraanvoël

Die Bloukraanvoël is 'n skaars, endemiese, bedreigde standvoël en is ook Suid-Afrika se nasionale voël.

Identifikasie

'n Grondlopende, eiesoortige blougrys voël met lang pote, 'n dik kop met wit kroon, 'n pienk bek, en lang vlerkpluime wat soos 'n stert lyk en wat feitlik tot op die grond strek. Die pluime ontbreek by jonges.

Habitat

Hou in pare of swerms in die Karoo, heuwelagtige grasveld, klam valleie, landerye en langs mere op soek na saad en insekte. Verkies taamlik hoogliggende streke en swerf rond wanneer hulle nie nes maak nie.

Verspreiding

Van die 15 verskillende kraanvoëls het die bloukraanvoël die ylste verspreiding. Hoewel die bloukraanvoël algemeen voorgekom het in hulle historiese gebiede en die populasie tussen 10,000 en 20,000 was, het daar 'n skieike afname in hulle getalle begin plaasvind sedert 1980, en hulle is tans as 'n bedreigde spesie geklassifiseerd. Die afgelope twee dekades het die bloukraanvoël hoofsaaklik verdwyn in die Oos-Kaap, Lesotho, en Swaziland. Die populasie in die Noordvrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en die Noord-Wesprovinsie het met tot soveel as 90% afgeneem. Die oorgrote meerderheid van die oorblywende populasie is in die oostelike en suidelike dele van Suid-Afrika met 'n klein afgesonderde groepie by die Etoshapan in noordelike Namibië. Soms word afgesonderde broeipare in die buurlande, Namibië, Botswana, Zimbabwe en Mosambiek aangetref. Die hoofoorsaak van die drastiese afname van bloukraanvoëlgetalle in Suid-Afrika word toegeskryf aan die land se bevolkingsgroei, die aanplantings van plantasies op grasvelde, die gebruik van gifstowwe in die landbou, asook die gebruik of misbruik van gifstowwe wat vir ander spesies uitgesit word. Die Suid-Afrikaanse regering beskerm die bloukraanvoël deur wetgewing. Ander bewaringsmetodes word ook aangewend, soos byvoorbeeld opleiding, navorsing, omgewingsbestuur en die werwing van hulp deur private grondeienaars.

Aasvoël

 

Die aasvoëls is roofvoëls in die familie Aegypiidae wat van afval en aas lewe. Hulle is meesal groot voëls en het tipies 'n min of meer kaal kop. Navorsing het getoon dat hierdie veerlose koppe 'n belangrike rol mag speel in termoregulering. Die kloue is nie baie sterk ontwikkel nie, maar die bek is kragtig en word gebruik om die vel van die dooie dier af te skeur. Die sig is baie sterk ontwikkel en die aas kan baie vêr gewaar word. Een of twee eiers, na gelang van die soort, word gelê. Die nes, 'n platform van takkies word in bome, op die grond of op kranslyste gebou. Aasvoëls word in alle landstreke gevind behalwe Antarktika en Oseanië.

 

Klassifikasie

Aasvoëls word taksonomies in twee groepe verdeel, naamlik Ouwêreldse en Nuwewêreldse spesies. Die ooreenkomste tussen die twee groepe word hoofsaaklik aan konvergente evolusie toegeskryf.

Voeding

Aasvoëls val selde gesonde diere aan, maar mag beseerdes of siekes aanval. Groot getalle is al op slagvelde opgemerk. Hulle wurg 'n groot hoeveelheid voedsel af wanneer vleis of prooi volop is, totdat die krop volkome uitgedy is, en sit dan slapend of in halwe turpor om hul voedsel te verteer. Hulle dra nie voedsel in die kloue na hul kuikens nie, maar bring dit uit die krop op. Hierdie voëls is van groot belang as aasdiere, veral in warm streke. Botulisme toksien wat botulisme veroorsaak, affekteer hulle nie, en hulle kan verotte vleis met miltsiekte- en cholerabakterië vreet. Wanneer aasvoëls se maal deur 'n taai huid bedek is, wat te sterk vir hul snawels is, wag hulle vir 'n groter aasdier om eers te vreet.

In suidelike Afrika is die naam vir 'n Swartaasvoël is sinoniem met die term vir bemindes, aangesien hierdie aasvoëls altyd in pare aangetref word, die ma en jongeling bly in noue band met mekaar. Afparing, paar-assosiasie, beskerming en sorg word gesien as noodsaaklike eienskappe benewens die aasvoël se grootte en vermoë om hoog in die lug te sweef.

 

Hammerkop

Die Hamerkop (Scopus umbretta) is 'n medium-grootte voël wat in Afrika (Suid van die Sahara) en in Wes-Arabië aangetref word. As gevolg van die Hamerkop se unieke eienskappe is die spesie self ook 'n genus (Scopus) en 'n familie (Scopidae).

Identifikasie

Medium-grootte voël (56cm). Die vorm van die kop en kuif herinner aan 'n hamer en is die oorsprong vir die naam van die voël. Bruin vere.

Dieet

Voedsel bestaan uit vis, paddas, knaagdiere en ander klein diertjies.

Kraai (Witbors)

Die witborskraai is 'n algemene, wydverspreide standvoël. 'n Vrypostige soort wat gewoonlik in bewoonde gebiede voorkom waar hulle stukkies weggooikos soek.

Identifikasie

Word aan sy wit bors en kraag uitgeken.

46-52 cm.

Habitat

Word veral by vullis-hope, speelterreine, langs hoofpaaie en by landerye gesien. Boer meestal in los swerms en oornag dikwels in groot getalle saam.

Sekretarisvoel

Die sekretarisvoël (Sagittarius serpentarius) is 'n groot, grondlewende roofvoël wat endemies aan Afrika is. Hierdie voëls word aan hulle unieke voorkoms gekenmerk: lang, kaal bene, met 'n statige houding en kuifvere met 'n swart punt. Gewoonlik word hierdie voëls in die oop grasvlaktes en savannes van sub-Sahara Afrika gevind, waar hulle bedags aktief op jag is na prooi.

Identifikasie

Hierdie groot voëls is uniek en kan nie maklik met ander voëls verwar word nie.

Hulle word tussen 90 en 150cm hoog en kan tot soveel as 5kg weeg. Wyfies is effens kleiner as mannetjies: mannetjies het 'n vlerkspan wat wissel tussen 1,26 en 1,65 m, terwyl wyfies se vlerkspan van 1,2 tot 1,32 m strek.

Bolangs is hulle grys en word ligter na onder. Op die agterkop en nek kom die kenmerkende lang swart vere voor. Hulle kan regop getrek word. Die dye en pens is swart en onder die stert is 'n massa wit donsvere; die swart dye laat dit lyk asof die voëls kortbroeke aan het. Vlugvere is swart en ondervlerke wit. Die twee kenmerkende lang stertvere is grys met 'n breë swart band en die verste puntjies is wit. Sekretarisvoëls het 'n kleinerige kop met 'n grys snawel en 'n geel-oranje neusvrat. Hulle oë kan wissel van donkerbruin tot geel, met kaal dele rondom die oë in 'n diep oranje kleur. Hulle liggaamsbou herinner aan 'n arend s'n, alhoewel hulle pienk, naakte onderbene glad nie soos dié van 'n arend lyk nie: met groot skubbe en kort tone wat in bot kloue eindig. Hulle lang bene is een van die sekretarisvoël se kenmerke. Die wyfies lyk soos die mannetjies (soms bietjie donkerder van kleur): daar is weinig seksuele dimorfisme by sekretarisvoëls.

Jong voëls lyk op hulle ouers, met 'n paar uitsonderings. Die gesigsvel van 'n jong voël is 'n ligter geel as dié van 'n ouer voël, wat tot rooi-oranje kan verdonker. Hulle sentrale stertvere is ook korter en die punte van die skouervere is swart gekleur.

Dieet en jaggewoontes

Die dieet van sekretarisvoëls bestaan hoofsaaklik uit insekte (87% - hoofsaaklik sprinkane, maar ook kewers, spinnekoppe, skerpioene, perdebye, ens.), klein soogdiere en knaagdiere (4%), akkedisse (3%), voëls (2%) - dit sluit kuikens en eiers in. Alhoewel sekretarisvoëls daarvoor bekend is dat hulle slange doodmaak en eet, word hierdie reptiele nie so dikwels geëet as wat oor die algemeen aangeneem word nie. Sommige waarnemers meen dat slange minder as 1% van hulle dieet uitmaak. Wanneer hulle wél slange vang, is dit oor die algemeen adders, kobras en ander giftige spesies.

Die algemene idee dat sekretarisvoëls hoofsaaklik van slange leef, is dus nie waar nie. Dalk het hierdie idee sy ontstaan te danke aan die Latynse spesienaam van die sekretarisvoël.

Sekretarisvoëls jag deur doelgerig deur die veld te stap op soek na kos en dan dikwels met hulle voete op gras en bossies te stamp om prooi op te jaag. Alle prooi word op die grond gevang en groter prooi word met harde houe van die pote doodgemaak. As prooi waargeneem word, sal hulle opgewonde die vlerke lig, versnel en dan die prooi inhaal. Kleiner prooi word gevang deur bloot te buk en die prooi met die snawel te vang. Groter prooi, waaronder slange, word met die voël se pote gestamp. 'n Sekretarisvoël sal 'n slang ook agter sy kop pik om die nek te breek of die slang katswink te slaan. Volgens oorlewering sal 'n sekretarisvoël 'n bewustelose slang optel, hoog die lug in vlieg en hom dan laat val, maar daar is nie betroubare aantekeninge van hierdie gedrag nie. Dooie of bewustelose slange sal heel ingesluk word, tensy dit te groot is: groot prooi word uitmekaar geskeur en dan stuk-stuk gevreet.

Na 'n voël gevreet het, sal hy homself ontlas. Die kuttels bestaan uit onverteerde kosreste: pels, bene of eksoskelette in. Soms word gras ook in die mis gevind; dit is nie duidelik of die gras toevallig saam met die prooi ingesluk word nie: dit is moontlik dat dit met opset ingesluk word om te verseker dat die kuttel nie uitmekaar val nie (veral in gevalle waar min pels ingesluk word). Verder is ook klippies in die mis waargeneem: hulle help om die eksoskelette van die groter ongewerweldes, byvoorbeeld krappe of groot skerpioene, op te breek.

Kulturele betekenis

Alhoewel die sekretarisvoël nie Suid-Afrika se nasionale voël is nie, neem dit 'n prominente plek op die staatswapen in. Dit simboliseer waaksaamheid en militêre slaankrag, sowel as die opkoms en die trots van die moderne Suid-Afrika. Die goue kleur van die embleem op die landswapen assosieer dit ook met die son en die hoogste gesag van die land.

Volstruis

Die volstruis (Struthio camelus) is 'n loopvoël wat inheems aan Afrika is, waar dit aangetref word in woestynagtige gebiede, oop vlaktes en die bosveld. Dit is die enigste oorlewende spesie van die familie, Struthionidae, en die genus Struthio. 'n Volstruis het 'n maklik-herkenbare voorkoms met sy lang nek en lang bene. Volstruise kan ook baie vinnig hardloop en het die vinnigste landspoed van alle voëls: 65 km/h.

Volstruise is ook die grootste lewende spesie van die voëlklas en daar word met volstruise regoor die wêrleld geboer. Die wetenskaplike naam vir 'n volstruis is van die Griekse strouthokamelos ("kameelmossie"), met verwysing na die voël se lang nek; die Grieke het ook na die voël as strouthos melage ("groot mossie") verwys.Die Afrikaanse benaming is 'n omgekeerde vereenvoudiging van die Nederlandse struisvogel ("struisvoël").

'n Mannetjiesvolstruis het swart en wit vere met 'n rooibruin stert, terwyl die wyfie (en ook onvolwasse volstruise) vaalbruin en wit vere het. 'n Volwasse volstruis het 'n gemiddelde lengte van 2 meter.

Tydens die broeityd vertoon die mannetjie se voorbene rooierig. 'n Volstruiskuiken lyk soos 'n korhaan, maar is meer donsagtig, met 'n afgeplatte snawel en dik bene.

Snags maak die mannetjies 'n harde dreunbrul.

Wielewaal ( Afrikaanse )

Die Afrikaanse wielewaal is 'n skaars somerstandvoël.

Identifikasie

Die mannetjie is die geelste onder die wielewale, met 'n duidelike swart streep wat deur sy oë tot by sy oordekvere strek. Jonges het ook 'n swart oogstreep. Die wyfie is nie so helder soos die mannetjie nie, met 'n groener rugkant en 'n bleker onderkant. Lengte 24 cm.

Habitat

Kom oral in goed ontwikkelde boomveld of oewerbos voor.

Gras Uil

Die Grasuil (Tyto capensis) word in Suid-Afrika as Kwesbaar beskou, met net tussen 1000 en 5000 oorblywende voëls in die land. Die spesies is in die suid-westerlike dele van Suid-Afrika en in Lesotho uitgewis en die gesamentlike druk vanaf ontwikkeling; vuur, misbestuur; landbou; oorbeweiding; bewouding en padsterftes is van ergerlike kommer vir die spesies. Die IUCN se Red List of Threatened Species se 2004-bepaling beskou die voël egter as nie-bedreigd ("least concern").

Grasuile verskil uiterlik van die Nonnetjiesuil in dat hulle groter is, met sterker kontras tussen die bo en onderlyf. Die bolyf is donker bruin en die onderdele is witterig. Die gesig is ook meer rond as die van die Nonnetjiesuil.

Die spesies benodig digte plantegroei soos die lang gras wat op die hoëveld voorkom, gewoonlike naby vleie. Hier sal die uil op die grond skuil en nesmaak, en vorm tonnels in die gras. Dit sal huiwerig opvlieg as dit versteur word, en sak dan gou weer terug in die gras in. Grasuile is meestal naglewend, en kom kort na sonsondergaan uit.

Die dieet bestaan hoofsaaklik uit knaagdiere, veral die vleirot, maar ook voëls, reptiele, paddas en insekte.

Witpelikaan

Die Witpelikaan is 'n voël in die pelikaanfamilie. Dit broei in moerasse en vlak mere. Die boomnes is 'n rowwe hoop van plantmateriaal.

Identifikasie

Die Witpelikaan is 'n algemene, gelokaliseerde standvoël. In nie-broeidrag word volwassenes aan hul spierwit voorkoms en grootte van Kleinpelikaan, (Pelecanus rufescens), onderskei; die snawel is liggeel en pienk; díe keelsak en pote is geel. In vlug is die vlerke wit van onder, wat by die swart vlugvere afsteek. In broeidrag toon volwassenes 'n pienk blos oor die liggaam, met 'n geel vlek op die bo-bors; die bo-mandibel is steeds pienk en grys en díe keelsak is geel; die pote is pienk. 'n Onvolwassene se kop en nek is donkerig (en word al hoe ligter), sy stert en vlerke is donker-bruin en sy onderkant is gelerig. Ongeveer 1,6m tot 1,8m lank, met 'n vlerkspan van ongeveer 2,8m. Onvolwasse voëls is grys met donker vlugvere. Meer as 50% van die voëls broei in die Donau-delta. Hulle migreer oor kort afstande en oorwinter in Noordoos-Afrika. In vlug is dit 'n grasieuse voël wat sy nek agtertoe hou, soos dié van 'n reier.

Habitat

Boer in swerms op eilande langs die kus (insluitend mensgemaakte guano-eilande), by riviermondings, baaie, strandmere en soms by groot damme en moerasse. Die boom-nes bestaan uit 'n slordige hoop blare.

Verspreiding

Kom voor vanaf Suidoos-Europa en Asië, asook plek-plek algemeen in die omgewing van Kaapstad, by Walvisbaai en Swakopmund in Namibië en in Noord-Botswana, St. Lucia-meer en Mosambiek.

 
Bronne: http://af.wikipedia.org/wiki/Aasvo%C3%ABl . http://af.wikipedia.org/wiki/Alfabetiese_lys_van_Suid-Afrikaanse_vo%C3%ABls
  Kontak Ons  

Ek gee waar moontlik erkenning waar moontlik, indien ek dalk van u materiaal sonder toestemming gebruik kontak my asb sodat ek dit kan regstel

Baie van die inligting op hierdie webblad is aan my gestuur deur vriende en forum lede daarom is en nie altyd seker van moontlikke kopie reg nie.